Algemene Inligting
TUIS
AKADEMIE
ALGEMEEN
KOMMUNIKASIE
KOSHUIS
KULTUUR
LEERDERSAKE
NUUS
ONDERSTEUNERSKLUB
SOSIAAL
SPORT
KONTAK EN DOKUMENTE
OUDSKOLIER
    Foto Blaaie
Algemeen
Sport
Kultuur
  NUUS

2017!

MONTIES WEN INTERSKOLE 2017!

Op Saterdag, 19 Augustus 2017, is Monties Bredasdorp toe om die Beadies aan te vat op hulle velde. 

Daar was 12 netbalwedstryde waarvan Monties 6 gewen het. Die o/19A wen Bredasdorp met 1 doel. 

Daar was 8 hokkiewedstryde waarvan Monties 4 gewen en 2 gelykop gespeel het. Die o/19A dogters verloor 0 - 1, die o/19A seuns wen 1 - 0. 

Daar was 5 rugbywedstryde waarvan Monties 2 wen en 1 gelykop speel. Die o/19A wen 47 - 20. 

Dit is die 7de keer uit 11 Interskole wat Monties wen! 

 

ONS NEEM AFSKEID

Op Vrydag 21 April 2017 het ons tydens die saalbyeenkoms afskeid geneem van oom Kiepbedoe (Poppie) Filander. Hy het in 2006 begin by MHS en tree na 11 jaar af op die ouderdom van 63 jaar. Hy is `n staatmaker en was altyd bereidwillig om meer as sy deel te doen. Die waardes en karakter wat oom Poppie het, spreek van `n ware Montie en daarvoor sê ons dankie en is ons trots dat hy deel van ons was. Ons wens oom Poppie goeie gesondheid en `n rustige aftrede toe. Baie dankie vir al die jare se getroue werk! 

Baie geluk:

Juffrou Elize van der Spuy wat vanaf Januarie 2017 by Hoërskool Montagu begin skool hou het, het haar graad in B. Ed. Verdere Onderwys Opleiding (graad 10 – 12) ontvang.

Juffrou van der Spuy het ‘n uitsonderlike prestasie behaal, deur haar graad te cum laude. Wel gedaan, Juffrou!

 

2016


JAPIE EN ANNA SPIES

HOëRSKOOL MONTAGU GROET NA 20 JAAR

Op Vrydag 11 November 2016 het die Hoërskool Montagu tydens 'n saalbyeenkoms formeel afskeid geneem van Japie en Anna Spies.  Beide van hulle was die afgelope 20 jaar betrokke by die skool.  Die geleentheid is bygewoon deur verskeie amptenare van die WKOD, oud-skoolhoofde en ander skoolhoofde van die omgewing.

Japie Spies het in 1983 sy onderwysloopbaan as LO-onderwyser by die Hoërskool Voortrekker in Kaapstad begin.  Sedert 1997 beklee hy die pos as skoolhoof by die HS Montagu. Hy het grootgeword in die Oos-Kaap en verwerf sy onderwyskwalifikasie aan die Universiteit van die Vrystaat.  Daarna verwerf hy sy BA, BEd en MEd deur Unisa.  In 2012 verwerf hy sy PhD deur die UV van Stellenbosch.  By die skool was hy al die jare verantwoordelik vir Geskiedenis Gr 10 - 12 en sy Gr 12 Geskiedenis-uitslae was elke jaar van die beste in die streek.  Dr Spies het die eerste 5 jare op Montagu die o/19A rugbyspan afgerig, waarna hy tot vanjaar betrokke was by die afrigting van o/15 rugbyspanne.  Hy was ook verantwoordelik vir die 1e en 2e dogters tennisspanne wat verskeie jare die N-Boland liga gewen het.  In 2014 ontvang hy 'n toekenning vir Uitstaande Leierskap in 'n sekondêre skool.

"Montagu is 'n pragtige dorp met besonderse mense.  Ek besef dit was 'n groot voorreg om die afgelope 20 jaar die skoolhoof van Hoërskool Montagu te wees.  Montagu se mense met hulle plattelandse karakter is baie spesiaal.  Die skool het 'n goeie balans tussen akademie, buitemuurs en geestelike vorming.  Saam met die kwaliteit en toewyding van die personeel en Beheerliggaam maak dit die skool baie spesiaal."

Anna Spies was vir die afgelope 20 jaar hoofsaaklik verantwoordelik vir Lewenswetenskappe Gr 10 - 12, terwyl sy op 'n stadium ook Rekenaarstudie en Wiskundige Geletterdheid gegee het.  Sy het in die Noord-Kaap grootgeword en haar studies aan die Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch verwerf.  Op buitemuurse gebied was sy verantwoordelik vir die noodhulp, tennisorganiseerder, bestelling van handboeke en betrokke by bemarking.

TANNIE CORRIE

HSM GROET TANNIE CORRIE MRT 2016

Na bykans 33 jaar in die onderwys het Mev Corrie Joubert, beter bekend as Tannie  Corrie, besluit om af te tree.  Sy behaal haar BSc en SOD op Stellenbosch en begin haar onderwysloopbaan in 1975 by die Hoërskool Montagu waar sy vir 5 jaar skoolgehou het.  In 1989 begin sy by die Hoërskool Robertson skoolhou waar sy altesaam 9 jaar skoolgehou het.

Die afgelope 16 jaar was sy verbonde aan die Hoërskool Montagu waar sy vir Natuurwetenskappe Gr 8 - 9 en Fisiese Wetenskappe Gr 10 - 12 verantwoordelik was.  In 2003 word sy aangewys as die beste Skeinat-onderwyseres in die Wes-Kaap!